Soos om jou sussie te soen, sê ondersteuners wanneer spanne gelykop speel. Dis nou oor die ANC-kieskonferensie by Nasrec, waar ná ure se agterstand, toevallig nes met regeringsbestuur, darem wel ’n uitslag was.
Die “groot wenner” was pres. Cyril Ramaphosa, wat – met baie meer stemme as 2017 se naelskraapse 179 – as leier herkies is en die res van die topsewe grootliks in sy guns. En die verloorders Miesies Kopdoek, die nar van Nkandla, liewe Lindiwe, die Ace wat nou ’n Zero is en ander uitgebaktes, verlooptes en skandemakers (in ANC-terme nogal ’n gedugte prestasie).
En die verrinneweerde Suid-Afrika dan? Hoe om die ANC-uitslag visueel uit te beeld as die beste slegte scenario vir Suid-Afrika vir eers, as ’n wen én ’n verloor, het my aan die sussiesoenery laat dink. Ander projeksies, paradigmas, profiele en bespiegelende politieke praatjies kan slim lyk, maar lesers is nie te bluf nie. Hulle beleef die land se realiteite daagliks en weet ons huiwer op die rand van ’n afgrond.