Ná ’n hofuitspraak bel die veroordeelde swendelaar se vrou die nuuskantoor. Haar man is tronkstraf opgelê weens bedrog. “Jul beriggewing het sy lewe verwoes,” kla sy.
’n Ander keer was dit ’n skoolhoof wie se skool lank – tereg – goeie dekking gekry het. Hy was afgehaal omdat hul matriekuitslae nie die voorblad oorheers het nie. Hy was nie vatbaar daarvoor dat die vorige dag se treinramp die voorblad bepaal het nie.
Elke (nuus)redakteur in die warm stoel het ’n sak vol stories oor konfrontasies oor wat hul publikasie dra of nie (wil) dra nie. Beswaardes voer altoos ’n agenda teen hulle aan. Asof “die media” – getroue sondebok – saamspan om te besluit watter individu of instelling bevoordeel of benadeel gaan word.