Ek is gelukkig in Suid-Afrika.
Oor 30 jaar net een huisbraak, een gesteelde voertuig (onder Leeukop in Kaapstad), en drie motorinbrake waarvan die laaste onder wagte se neuse misluk het op Naval Hill, waar ek onlangs ’n besoeker gou die uitsig oor die stad van die Mandela-beeld gaan wys het (skade aan deurslot en handvatsel: R6 000). In Kaapstad het ’n bende jonges my vroegaand bestorm en van alles (selfs die gordel) buiten hemp en broek beroof toe ek – as parlementêre beriggewer in 2004 – dom genoeg was om stasie toe te stap vir ’n bus huiswaarts omdat my bakkie onverwags in ’n werkwinkel oornag het.
Van my naastes is my ma – in die laat 1970’s, dink ek – pimpel en pers geslaan toe die woonwa waar sy die bouers Botes & De Wet se adminwerk verrig het op die UV-proefplaas by Bloemfontein beroof is. Haar vuurwapen (waarmee sy in elk geval ongemaklik was) is afgevat. Dit is later teruggekry.