Ná sy hofverskyning in Bloemfontein Vrydag sê die uitgeworpe Ace Magashule dis duidelik die ANC wil met die DA saamwerk. “Hulle wil die land sien gaan. Daar is beter partye om mee saam te werk. Daar is die EFF, die UDM. Partye met wie daar in die apartheidsjare saamgewerk is.”
Navorsing van die Verkiesingskommissie wys Suid-Afrikaners is so ontnugter deur die demokratiese stelsel dat steun vir ’n diktatorskap toeneem, mits dit probleme sal oplos. Dus ’n goedaardige “sterkman”-leier wat funksionaliteit in die land kan herstel. Pasop vir dit waarvoor jy wens.
’n Dikwels aangehaalde uitspraak van Churchill lui deels: “Demokrasie is die slegste regeringsvorm buiten al die ander wat van tyd tot tyd probeer is . . .” Wat in Suid-Afrika met die demokrasie skort, is natuurlik dat die ANC danksy sy volstrekte meerderheid die afgelope 28 jaar in elk geval ’n diktatoriale heerskappy voer. Sonder enige regeringswisseling. Dié verknogtheid aan alleenheerskappy blyk uit Magashule se veelseggende vrees – of wens – dat die ANC (van Cyril Ramaphosa) met die DA wil saamwerk.