’n Vis vrot van sy kop af. As ’n mens dié spreekwoord vir politieke partye wil aanpas, kan jy seker sê dat hulle in stedelike gebiede begin vrot. Veral as dit bevrydingsbewegings in die suide van Afrika is.
Nadat Zanu-PF in Zimbabwe vir 20 jaar aan die bewind was, het hy vir die eerste keer behoorlik teenstand gekry toe grondwetwysigings in ’n referendum deur kiesers verwerp is en die Movement for Democratic Change (MDC) Robert Mugabe se regime begin uitdaag het. Hoewel daar in landelike gebiede ook teenkanting teen Zanu-PF was, was dit veral in stede waar mense nie veel van die party, met sy hoofkantoor in die straat in Harare met die gepaste naam Rotten Row, wou hoor nie.
Met 2000 se verkiesing, toe Mugabe se grondhervormingsplan ook op die spits gedryf is, het die ekonomie tekens van verval begin toon met stygende lewenskoste en werkloosheid. “Ek soek nie ’n plaas nie, ek soek werk,” het ’n man in daardie onstuimige tye vir my gesê.