Die dikwels onverkwiklike debat tussen die ANC en sy politieke teenstanders oor die Russiese inval in Oekraïne laat ’n mens dink aan die woorde van Henry Kissinger, ’n voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake.
Dié land het nie vriende nie – net belange, het hy in die dae van die Koue Oorlog oor Amerika se buitelandse beleid gesê.
Die Amerikaners het dié beginsel onbeskaamd toegepas. Hulle het byvoorbeeld die kleptokratiese diktator van die destydse Zaïre, Mobutu Sese Seko, se hand deurentyd gesterk omdat hy as ’n teenvoeter vir kommunistiese uitbreiding beskou is ondanks sy gruwelike menseregtevergrype.