Oudpres. Jacob Zuma se “gesprek met die nasie” Saterdag in ’n hotel in Sandton was soos ’n tydreis na die verlede.
Joernaliste, aanhangers van die land se vorige president en die “nasie” sou al Woensdag van Zuma gehoor het. Maar sy gesprek is tot Vrydag uitgestel en daarna tot Saterdag.
Nadat hy aan die woord gestel is, het Zuma langer as 2 uur en 40 minute gedagtes gewissel met wie ook al wou luister. Hy het eers ’n ellelange gedrukte verklaring afgelees, dikwels oor sy woorde gestruikel en kort-kort ’n grappie gemaak.