Nog ’n seder het toe geval. Hierdie keer, met apologie aan PG du Plessis, nie in Waterkloof nie, maar in Somerset-Wes, met die stille heengaan op 91 van die briljante pianis Henry Morkel, ’n gebore Helderbergse musieklegende.
Legende is ’n woord wat ek nie ligtelik gebruik nie. Min mense kan inderdaad daarop aanspraak maak. In sy geval kom dit hom volkome toe. Sy lang uitsonderlike lewe is dag ná dag aan sy musiek gewy. Daarmee het hy op sy eie en in orkeste gehore en dansers regoor Suid-Afrika bekoor.
Wanneer hy voor sy reusagtige Danemann-vleuelklavier (so groot dat dit die woonvertrek van sy dorpshuis in Somerset-Wes amper volgestaan het), gekoppel aan twee elektroniese klawerborde wat hy tegelyk bespeel, ingeskuif het, het jy van die wêreld se sorge vergeet. Hy het dan met die ligte romantiese musiek van sy era wonderlike herinneringe opgeroep.