Hierdie keer is dit anders; hierdie keer kan die dood van ’n kind in ’n bruin gemeenskap nie, voorspelbaar, aan enige van die gewone oorsake toegeskryf word nie. Dit was nie bendes nie, nie dwelms nie, nie gemeenskapsmisdaad of armoede nie.
Hierdie keer word die vinger van beskuldiging na die polisie gewys, dieselfde polisie wat die orde moes kom herstel ná diensleweringsproteste in Johannesburg se Eldorado Park. Maar die bende-stereotipering is só diep ingebed dat dit wel aanvanklik uit polisiegeledere (en herhaal deur die Gautengse premier, David Makhura) as ’n verduideliking aangebied is vir die dood van die 16-jarige Nathaniel Julies: dat hy kwansuis Woensdagaand in kruisvuur tussen die polisie en bendes vasgevang was.
Die ander weergawe word as meer geloofwaardig bejeën. Teen die aand sou hierdie downsindroom-kind buite toe, nuuskierig oor die polisie se flitsligte wat by sy ouerhuis se vensters inskyn. In sy hand het hy sy gunsteling beskuitjies gehad; in die strate was daar oorlog. Hy sou net daar staan, met daai intense kyk in sy amandelvormige downsindroom-oë, onseker oor wat aan die gebeur was, onbevoeg om aan die polisie te verduidelik dat hy geen betrokkene was nie, slegs maar ’n omstander, weens die spraakgebrek waarmee sy toestand lyers laat presenteer.