narra s.nw. (Khoi: !nara). Liggeel ronde vrug wat as voedsel dien, met olieryke sade en ’n skerp reuk. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.
Soms is jy gelukkig om onverwags plekke te ontdek waar ’n wêreld vol woorde – waarvan jy min in ons stede hoor – hul opwagting maak. Sulke plekke is die vissersdorp Paternoster aan die Weskus en vernaam by die restaurant Wolfgat.
Die fotograaf Jac de Villiers het met die sjef en eienaar Kobus van der Merwe ’n kookboek ’n ruk terug al oor hierdie eetplek uitgegee. Al is Strandveldfood: A West Coast Odyssey in Engels gepubliseer, is dit vol Afrikaanse woorde wat skaars soos wors in ’n hondestal geword het.