Kaapse bobbejaan s.nw. Papio ursinus, met ’n goed ontwikkelde stert en sonder maanhaar op die kop en skouers; kom oor die hele S.A. voor. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.
Eendag was daar ’n bekende Kaapse bobbejaan van Magaliesberg, genaamd Jackie. Dié kees is as klein wesie in 1914 deur Albert Marr op sy familie se kleinhoewe in Villiera, vandag ’n voorstad van Pretoria, gevind. (Een bron verwys na Albert as Andrew.)
Luidens die webwerf SA Military History het Albert vir kees se kind gered nadat sy ouers deur ’n losprysjagter doodgeskiet is. Hulle was onafskeidbaar. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het Albert vir diens aangemeld. Hy het vir Jackie saamgevat en gesê dié dier gedra hom goed en het hom as waardig beskryf.