pentimento s.nw. Ou verf op doek word soms deursigtig. Wanneer dit gebeur, is dit moontlik om in sommige kunswerke die oorspronklike werk te sien: ’n kind maak plek vir ’n hond, ’n groot boot is nie meer op ’n oop see nie. – Uit Lillian Hellman se memoires, Pentimento.
In stede, waar die atmosfeer, plekke en die dramatis personae gereeld verander, kan ’n mens seker na die vorige lae van ’n stad as sy pentimento verwys. Stap jy deur Distrik Ses, sal jy nog ou stukkies fondamente van huise tussen die wapperende droë grasvlaktes sien lê.
Die bopunt van Seepunt was anderdag nog verlep. Dit het oornag in ’n klein Soho ontpop.