’n Mens sou van opposisiepartye verwag dat hulle groot gewag sou maak van skoon regering, bekwaamheid en verantwoordbaarheid aan die kieser. Pleks daarvan ploeter hulle voort oor dinge wat niks met plaaslike regering te make het nie, skryf Christi van der Westhuizen.
’n Mens lees tans pal oor hofsake waarby ANC-leiers betrokke is. As dit nie ’n LUR is wat van moord in Mpumalanga aangekla word nie, is dit die geskorste sekretaris-generaal van dié party, Ace Magashule, wat vir die asbesdak-korrupsie in die hof moet verskyn.
Die voormalige minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, probeer hom boonop uit die Digital Vibes-klagtes loswikkel – terwyl die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, die Valke se ondersoek na hom probeer stop. Dit – óf dis sogenaamde oorlogsveterane wat in die hof verskyn nadat hulle (na bewering) kabinetsministers as gyselaar aangehou het.