In die dae van sosiale media is dit nie te sleg as ’n sanger wat die eerste keer ’n musiekvideo op YouTube plaas binne ure byna ’n miljoen trefslae kry nie. Anders as prulsangers, kan die ruimtevaarder Chris Hadfield wel sing.
Nog ’n verskil is dat hy sy opname in 2013 van David Bowie se “Space Oddity” opgeneem het terwyl hy gewigloos in die Internasionale Ruimtestasie (IRS) gesweef het. Die aand voor hul terugkeer na die aarde is dit op YouTube geplaas. Toe die Soyuz later in Kazachstan neerplons en hulle uit dié pendeltuig gehelp word, word hy uitasem in Russies (wat hy tydens opleiding geleer het) verwelkom met die nuus dat sy YouTube-video al 7 miljoen keer gekyk is.
Alles in die ruimte loop nie altyd reg nie. In sy An Astronaut’s Guide to Life on Earth skryf Hadfield, ’n Kanadese held, juis die vraag wat ruimtevaarders aan boord heeltyd stel, is: “Wat is die volgende ding wat jou kan doodmaak?”