Mervyn Dirks, daardie ongepoetste ANC-parlementslid van Pietermaritzburg wat verlede week “geskors” is omdat hy eis dat pres. Cyril Ramaphosa aan die parlement moet vertel wie in die ANC hoeveel staatsgeld vir partypolitieke werk gebruik, gaan nie sommer verdwyn nie.
Dis bitter ironies dat Dirks in die Zuma-jare omtrent alles gedoen het wat nodig is om hom uit die parlement te skop, maar weggekom het daarmee. En nou is hy in ’n politieke woestyn omdat hy die regte ding probeer doen het.
Hy was destyds berug vir sy onbetaamlik taalgebruik in die Nasionale Vergadering (NV). Hy’t Phumzile van Damme, ’n voormalige DA parlementslid, ’n “straatmeid” genoem tydens ’n vurige debat in die NV. Dirks is al uit die parlement gejaag omdat hy ’n middelvinger gewys het en selfs ’n hou gemik het na ’n vroulike ANC-parlementslid.