Die alliansie tussen die ANC en Cosatu is lankal net in naam ’n alliansie, maar die wegjaery van Gwede Mantashe (een van die belangrikste argitekte in die skepping van die vakverbond) by hul leierskonferensie vroeër die week is ’n nuwe laagtepunt.
Uiteindelik was daar geen formele toespraak van die ANC aan die kongresgangers nie – vir die eerste keer sedert die alliansie in 1992 formeel tot stand gekom het. Gwen Ramokgopa, ’n junior in ANC-kringe wat instaan as adjunk-sekretaris-generaal, was uiteindelik die mees senior ANC-lid by die konferensie.
Dit dek die tafel vir ’n gebeurtenis wat jare lank voorspel word: Suid-Afrika se eie “Thatcher-oomblik” waarin die regering en die land se vakbonde op ’n magstryd afstuur waarin daar net een wenner is.