André de Ruyter kommunikeer soos ’n uitvoerende hoof van ’n genoteerde maatskappy wat met aandeelhouers praat.
Hy gee die raamwerk. Hy spel nie die fyner besonderhede uit nie. Aandeelhouers moet tussen die reëls kan lees. As hulle nie daartoe in staat is nie, moet hulle liewers hul aandele verkoop.
Sedert hy in November 2019 uitvoerende hoof van Eskom geword het, het De Ruyter geen enkele keer belowe dat beurtkrag op sy wagbeurt minder gaan word nie. Hy en sy senior bestuurders het dit trouens duidelik gemaak dat ons lank met beurtkrag gaan saamleef omdat meer eenhede afgeskakel moet word sodat hulle deeglike onderhoudswerk kan doen.