Op die vooraand van die ANC se leierskonferensie is daar baie geraas oor wat in die regerende party aan die gang is, maar die meeste daarvan is net dit: geraas. Vergeet van Phala Phala. Die manier waarop die Kieswet gewysig word, is die eintlike ding waaroor ons moet wakker lê.
Ons minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het nou reeds so gegoël met die wysigings aan die Kieswet dat niemand meer seker is wat daar aangaan nie. Het die land maar geweet sou ons lankal die strate ingevaar het om hom te keer.
Die aanvanklike wetsontwerp wat hy aan die parlement voorgelê het, sou dit vir die ANC moontlik maak om meer as 50% van die setels in die parlement te kry, selfs al het die party so min as 44% van die uitgebragte stemme gekry! En dit is maar een van ’n lang lys toertjies in die konsepwet wat sake vir onafhanklike kandidate bemoeilik – tot voordeel van die ANC. Boonop het hy die konsepwet omtrent ’n jaar te laat by die parlement ingedien vir ’n behoorlike konsultasieproses en insette van die burgery.