Is ons op die vooraand van ’n reusagtige staatsdiens-staking? Dit klink so as mens na die vakbonde luister, maar as jy dieper onder die oppervlak kyk, word dit duidelik dat kollektiewe bedinging in die staatsdiens besig is om dramaties te verander.
Eintlik is die retoriese dreigemente van ’n staking dié keer ’n swanesang, want die regering is stadig maar seker besig om die bedingingsmag van staatsdiensvakbonde dramaties in te kort. As hy dit regkry, gaan dit goed vir die ekonomie wees, maar dis ’n gevaarlike dobbelspel.
Dink maar terug aan die eerste volwaardige staatsdiensstaking in die winter van 2007. Die vakbonde, met Cosatu aan die voorpunt, het verhogings van 12% geëis en die staat het 6,5% aangebied. Toe die staking drie weke later eindig, het staatsamptenare met verhogings van 7,5% weggestap.