Dit moes niemand verbaas het dat net ’n paar honderd mense gehoor gegee het aan Cosatu en Saftu se landwye wegbly-aksie teen die hemelhoë kos- en drankpryse nie.
Dit was niks minder nie as ’n totale vernedering vir die arbeidsbeweging. Van die magtige Cosatu wat in die 1990’s die land tot stilstand kon bring met betogings het in wese niks oorgebly nie.
Suid-Afrika is steeds ’n land waar van die meeste protesoptredes ter wêreld plaasvind, maar die dae van politieke of sosio-ekonomiese protes onder ’n vakbondsambreel is getel. Dis net regstreekse werker-kwessies soos arbeidsmakelary wat nog enige steun van werkers kry.