Dis amper onmoontlik om nie moedeloos te voel oor ons president nie. Besluitloosheid en eindelose vertragings met alles wat vir almal dringend is, pla omtrent van sy eerste dag in dié hoë stoel.
Maar al het hy groot foute, het ons tot onlangs geweet sy hart is ten minste op die regte plek. Al het hy en sy party die wêreld vier jaar lank aan die raai oor die verskansing van eiendomsreg in die Grondwet; al is hulle behep met die doodgebore Nasionale Gesondheidsplan; al hou hy aan om verwaande, onbevoegde kabinetslede (Cele!) te beskerm. Selfs die gemors by Eskom kan mens vergewe.
Maar dat Amerikaanse dollars in sy plaashuis weggesteek word en hy verseg om aan die land te verduidelik wat aan die gang is? Dis iets anders.