Jy kon omtrent die vraagtekens op die skerm sien toe Masibulele Xaso, sekretaris van die parlement, doodluiters op ’n aanlyn komiteevergadering sê pres. Cyril Ramaphosa het reeds die derde deel van die Zondo-verslag by die parlement ingedien.
Dit was een van daardie seldsame oomblikke waarop almal in die komitee probeer kalm lyk terwyl dit onder die water woel van die emosies. Veral die ANC-lede in die programkomitee het maar te goed besef wat die implikasie van Xaso se aankondiging is.
Dit hou verband met die DA se adjunk-hoofsweep, Siviwe Gwarube, se pogings om die proses te verhaas, wat haar medeparlementariërs sal dwing om op te tree teen die staatskapers in hul midde.