Hoe sou ’n etiese lewe in ’n gesekulariseerde tyd soos ons eeu daar uitsien? Is dit moontlik om in ’n land van vele godsdienste (en ongodsdienstighede!) mekaar te vind oor wat “die lewe van ’n regverdige” is; oor hoe ’n lewe van wysheid en integriteit, sorg en verantwoordbaarheid lyk?
In ’n eerste rubriek vir vanjaar het ek aangedui dat ek nie anders kan as om hieroor vanuit die Joods-Christelike tradisie waarin ek grootgeword het, na te dink nie. Dat daar wél ook diep onder ons saambestaan ’n universele etiese kode ingebed lê; ingeprent in ons kollektiewe bewussyn en in die groter ontwikkelingsgang van die mensdom deur die afgelope drie millenia. Uit die bladsye van een van die ou Skrifte: Tien Woorde vir ’n gelukkige, geseënde lewe (Eks. 20) – die “weg van wysheid” (Ps. 1), is ook daarna verwys. En as eerste woord daarin vir my vir ’n etiese lewe, dít: Vertrou God.
Nou sou daar tereg diegene kon wees wat aanvoer dat juis in ’n konteks van sekularisasie en post-alles – post-Auschwitz, post-modernisme, post-apartheid, post-9/11, post-waarheid, post-Covid-19 – ons in die etiek eerder maar net op die mens en ander skepsels hierbenede moet fokus. Op óns onderlinge verhoudinge en wat daarin reg en verkeerd sou wees. Begin dáárby; by wyse van spreke (in hierdie tradisie), die tweede kliptafel van ses woorde oor lewe en liefde vir jou naaste. Begin – en blý – by die horisontale; die Transendente is nie meer daar nie; dit was ’n projeksie van die primitiewe menslike gees en sy hunkeringe; die kerke en godsdiensinstellings het ons male sonder tal teleurgestel en ontredderd gelaat; “ons het die aarde van sy son losgesny, alles kom tot niks” (Nietszche). God is dood, dit is verby. Aah-mens.