Onlangs, oor ’n koppie koffie, vra ’n vriend my hoe ’n etiese lewe in ’n gesekulariseerde land sou lyk. Is daar gemeenskaplike waardes aan die hand waarvan ons, in ’n tyd en konteks met uiteenlopende kulturele- en godsdienstige oortuigings, tóg ’n lewe saam met mekaar sou kon inrig? ’n Sosiale kontrak, sê nou maar.
Want, ja, ons hét immers ’n goeie Grondwet wat onder meer godsdiensvryheid en die reg op vrye spraak beskerm.
Maar beteken dit dat enige “bakkie-” of “doomprofeet”, priester of pastoor, stortprediker of sosiale “influencer” ’n vrye sê het om sy/haar opinie oor sake op ons af te dwing? Namens wie praat so iemand? Gee dit hom/haar meer gesag as hul daarby sou uitroep “die Bybel of Koran sê so”? Of moet godsdiens liewer glad nie in openbare ruimtes soos die parlement en markplein aan die woord kom nie? Behoort koerante nie ruimte te gee vir godsdienstige rubrieke soos hierdie een nie?