Monére. “Om iemand aan iets te herinner.”
Van dié Latynse woord, via Frans, via Nederlands, kom Afrikaans se monument. Volgens die WAT ’n struktuur of standbeeld, opgerig om ’n bepaalde gebeurtenis te gedenk, of ’n bepaalde persoon of groep persone te vereer.
Verskillende soorte gedenktekens word gelys: beelde, grafmonumente, -naalde, -pale, kruise, klipstapels, suile. Elk opgerig met die gedagte dat dit tydloos sal wees. Maar ’n monument weerspieël byna altyd die waardes van die tyd waarin dit geskep is en die agenda van sy skeppers; daarom het die legitimiteit van elkeen ’n vervaldatum. Namate die tyd verbygaan, samelewings verander, waardes verskuif. Sodat die vraag ontstaan: Hoe gemaak met uitgediende tekens?