Vir Afrikaans Vandag fynkam ek gereeld die media. Nes Ton den Boon, eindredakteur van die Nederlandse Dikke Van Dale, taalontwikkelings en -tendense vir sy Taalbank dophou. In sy blog oor taalverandering publiseer hy daagliks ’n woord van die dag. Wanneer nuus hier my bedruk, blaai ek soms soontoe.
Soos dié week. So, hier is paar rekrute. Werf hulle as jy wil, of stuur hulle huis toe.
Terwyl somertemperature vorige rekords laat smelt en nog versengende hitte vir Europa voorspel word, beleef Nederlands ’n ontploffing van klimaatwoorde. In ’n lys wat Den Boon in 2019 begin het, staan al byna 250 nuwe samestellings.