’n Paar weke gelede wag ek in ’n tou by binnelandse sake. Die sewe uur wat dit my vat om voor te kom, gee my genoeg tyd om met die matriekseun van ’n plaaslike hoërskool wat voor my in die tou sit te gesels. Ek vra hom uit oor hoe dit was om op skool te wees in ’n pandemie.
Nee, vertel hy, lockdown was nie so sleg nie, want sien, omdat klasse vir meeste van die tyd gesluit was, het hy en sy vriende elke dag sokker gespeel. En sy skills het so improve, verduidelik hy, dat hy dit nou ernstig oorweeg om ’n professionele sokkerspeler te word.
Miskien is die silwerrandjie van ’n donker Covid-19-wolk dat die Bafana Bafana-afrigter oor ’n jaar of drie uit ’n span kan kies wat uiteindelik vir die Wêreldbeker kan kwalifiseer. Dit sou snaaks wees as dit nie so tragies was nie, want die nagevolge van twee gemiste skooljare het nog glad nie by daardie matriekseun – en, vermoed ek – by die res van ons ook, ingesink nie. ’n Skoolstelsel wat reeds ’n geel kaart gehad het, is met Covid-19 en die gepaardgaande inperkings summier van die veld gestuur. En die langtermynuitwerking daarvan spel groot onheil.