“Wat?” is dalk jou eerste vraag. “Word mooier mense meer betaal?”
Sonder twyfel. Tientalle studies toon dat fisiek aantreklike mense meer geneig is om na werksonderhoude uitgenooi te word, vinniger bevorder word, en, waarskynlik die belangrikste, hulle is meer geneig om meer te verdien as hul onaantreklike eweknieë.
Hoe weet ons dit? Hier is ’n tipiese toets. Ses van dieselfde CV’s word gestuur aan ’n werkgewer wat ’n pos adverteer. Op vier van die CV’s is ’n foto. Die een het ’n foto van ’n aantreklike man, nog een dié van ’n aantreklike vrou, die derde van ’n onaantreklike man en die vierde van ’n onaantreklike vrou. Die vyfde en sesde CV’s, van ’n man en ’n vrou, het geen foto nie. Dan meet die navorsers die responskoers.