Verlede week sit drie Russiese soldate voor ’n TV-kamera in Oekraïne. Hul gesigte en hande is vol skrapnelmerke, die ouer man in die middel se onderste tande is weg.
Hy, Astachof Dmitri Michailowitsj, ’n luitenant-kolonel in die Russiese weermag en nou ’n krygsgevangene, praat eerste: “Ja, terwyl ons nog in Rusland was het die media ons vertel dat Oekraïne oorheers word deur Fasciste, dat nasionaliste en Nazi’s nou in beheer is en dat gewone mense van hierdie juk bevry moet word. Ek weet nou dis verkeerd. Moet my asseblief nie te hard oordeel nie.” Hy verduidelik: “Natuurlik het ons die internet. Somtyds kry ons inligting van ander bronne. Al het ons soms gewonder, al het ons min van die situasie geweet, het ons nie ons eie ontleding gedoen nie.”
Wat het hom van sy sienings laat verander? “Ek persoonlik is ’n groot ondersteuner van Oekraïense boksers.” Hy noem dan die name van ’n paar bekendes. “En toe hoor ek hulle het besluit om te bly en te veg vir hul land. En ek voel skaam dat ons in hierdie land ingekom het. En ek sien die vroue wat staan en huil. Ek weet nie hoekom ons dit gedoen het nie. Ons het so min geweet.”