Op skool het ons geleer dat Thomas Edison die eerste was om ’n suksesvolle gloeilamp te bou. Maar miskien gee ons skoolhandboeke Edison te veel krediet.
Op 3 Februarie 1879, ’n paar maande voor Edison se eerste demonstrasie, staan ene Joseph Wilson Swan voor ’n gehoor van 700 mense in Newcastle upon Tyne, Engeland, en wys hoe ’n elektriese stroom die koolstofdraad binne ’n glasomhulsel verlig. Vir Swan was dit die hoogtepunt van meer as 20 jaar se werk, terwyl Edison maar eers in 1878 aan die probleem begin dink het.
So, was Swan dan eerste? Ook nie. Edison en Swan was maar net twee van ’n hele klomp uitvinders wat gewerk het om ’n gloeilamp te ontwikkel. Om die waarheid te sê, teen die einde van die 1870’s was daar 21 hoopvolles – van Rusland en Duitsland, tot België en Frankryk, tot Kanada en Amerika – wat die idee vir ’n gloeilamp gekry, gepatenteer of gepubliseer het. Swan was egter die enigste een wie se patent so goed was dat Edison verplig was om sy latere winste met hom te deel – en dis ook Swan se lampe wat gebruik is in die 16 straatligte wat in 1882 in Kimberley aangeskakel is – selfs voordat Londen elektriese straatligte gehad het.