As jy ’n sosiaal-wetenskaplike wil vasvra, vra hom of haar waarom Suid-Afrika so ’n hoë misdaadsyfer het.
Jy sal nie ’n tekort aan antwoorde kry nie. En dis juis die probleem. Daar is te veel verklarings. En geen manier om te weet watter een die regte een is nie.
Neem maar armoede. Indien armoede die grootste rede vir misdaad is, sal ons verwag dat die meeste misdaad in die armste dele plaasvind, nie waar nie? En tog, dis nie die geval nie. Die armste dele in Suid-Afrika, die voormalige tuislande, het nie die hoogste vlakke van misdaad nie. Jy vind dit in die stede.