Dis ’n feit soos ’n koei: Ons breine is geprogrammeer vir slegte nuus. Ons voorgeslagte het net oorleef as hulle gevare vinnig kon identifiseer en hulself betyds uit die voete kon maak. Dié wat blasé was as ’n leeu of ’n kryger van ’n nabye stam te naby kom se nageslagte is nie meer met ons nie.
Dis hierdie menslike aptyt vir negatiewe nuus wat koerante nog aan die gang hou. En dis selfs erger op sosiale media, soos Netflix se The Social Dilemma mooi verduidelik. Ons word aanlyn gepeper met nuus wat op ons evolusionêre vatbaarhede inspeel. En ons koop dit, al is dit nie eens naby die waarheid nie.
’n Onlangse studie toon dat daar ’n negatiewe verband is tussen misdaad en die beriggewing daarvan: Hoe minder misdaad daar is, hoe meer aandag kry dit in die media. Dit verklaar miskien waarom meeste mense wêreldwyd dink dat geweld en misdaad erger is as vroeër, alhoewel dit tipies nie strook met die realiteit nie. (Daar is uitsonderings, natuurlik).