Net voordat die Britte die Kaap in 1795 annekseer, skryf Johannes Frederik Kirsten ’n brief aan die Britse regering.
“Die meeste van die boere en die inwoners van die dorpe is bankrot,” verduidelik hy, “en die res se eiendom word deur die sekwestreerder besit. Onvermydelike armoede is vir almal in die vooruitsig.” Die Kaap, waarsku Kirsten die nuwe koloniale meesters, was nie ’n baie aantreklike plek nie.
Skuld was die primêre rede vir Kirsten se pessimistiese uitkyk. Hy was ’n ryk man met 100 slawe, 674 osse en 130 perde, om maar net ’n paar van sy besittings te noem; die gevolg van sy huwelik met die weduwee van Marthinus Melck, die seun van Martin Melck, die rykste man in die kolonie. Maar sy broer, Jan Pieter Kirsten, was diep in die skuld – hy het meer as 2 000 rijksdaalders aan verskeie geldskieters geskuld. Dit was ’n groot klomp geld: ’n VOC-luitenant het maar 200 rijksdaalders per jaar verdien; ’n soldaat 40.