Wie is die invloedrykste 19de-eeuse figuur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis?
Is dit Shaka, koning van die Zoeloes, of die Voortrekkerleier Piet Retief, of Andries Waterboer, die Griekwakaptein? Of dalk die entrepreneur Joseph Barry van Swellendam, of die koloniale sekretaris John Montagu, of die diamantmagnaat en later eerste minister Cecil Rhodes? Of miskien die Xhosa-hoofman Maqoma, of die redakteur John Jabavu, of die ZAR-president Paul Kruger?
Dis nie werklik ’n vraag met ’n korrekte antwoord nie. Elkeen van hierdie nege historiese figure – en daar is sekerlik vele ander – kan met reg as invloedryk beskou word. Elkeen verdien seer sekerlik ’n biografie, as hulle nie reeds een het nie. En die goeie nuus is dat sulke biografieë geskryf kan word, want gegewens oor hierdie individue, hul dade en gedagtes, is opgeteken en word bewaar in etlike argiewe oor Suid-Afrika heen. Historici kan met relatief min moeite (maar baie tyd) hierdie argivale inskrywings bestudeer en ontleed en hierdie en ander bekendes in die geskiedenis inskryf.