In die diep, donker dae van ’n erg verdrukkende bestel, het die Xhosa-proteslied “Senzeni na” omtrent dieselfde politieke waarde gehad as die Amerikaners se “We Shall Overcome”.
“Senzeni na” kon mens meesleur en inbind in massavergaderings en die lied het gevibreer in protesoptogte, in tronkselle oral in die land, by anti-apartheid-instansies, in skole, op kampusse, by sportorganisasies wat die fakkel gedra het om nie kollaborateurs van normale sport in ’n abnormale samelewing te wees nie, by begrafnisse, in huise en by onderwyskongresse. Dit was ’n proteslied wat deur wit, bruin, swart en Indiër gesing is – álmal wat die vryheidsideaal nagestreef het. Vrylik in Afrikaans vertaal beteken dit: Wat het ons gedoen / wat het ons gedoen / ons enigste sonde is die kleur van ons vel.
En nou amper drie dekades ná bevryding is ons terug by “Senzeni na”. Terug daarby dat ons enigste sonde die kleur van ons vel is. Hierdie keer met die komplimente van die boefagtige ANC wat ons weer kalibreer om in ’n rasraampie in te pas. Hierdie einste ANC wie se mooi voornemens was dat niemand meer op die kleur van hul vel beoordeel en bevoordeel sal word nie, maar dat hierdie Suid-Afrika aan ons almal sal behoort.