In geval van nood, stamp die noodruit uit, lui die plakker op ’n bus se agterruit terwyl dit voortkruie in die stadsverkeer. Daar is nogal effense politieke simboliek in daardie plakker opgesluit.
Wanneer gaan Suid-Afrikaners die noodruit uitstamp, want Bus Suid-Afrika, waarin ons passasiers is, is besig om teen ’n skrikwekkende spoed die pad byster te raak. Enersyds omdat die busbestuurder van die roete koers verloor het en andersyds omdat ons in ’n gekrokte bus is wat nie behoorlik deur die werktuigkundiges versien is nie.
In die politiek kan daardie werktuigkundiges deurgaan as ANC-kaders wat maar wag op die vet tender om die bus te olie en te ghries, maar die einste werktuigkundiges het nie die nodige kwalifikasies nie. Pleks van nuwe bande, gaan ons maar vir die versooldes, en pleks van ordentlike briekskoene, gaan ons maar tweedehands omdat dit goedkoper is en ons stu maar voort met foutiewe flikkerligte.