Ek weet nie of dit maar net ’n ding is wat met die ouderdom aankom nie. Of moontlik moet ek maar net Covid-19 se streng inperkings daarvoor blameer.
In die grendeltyd het teaters leeg gestaan en geen opvoerings of musiekkonserte is gehou nie. Uiteet in groot restaurante was taboe. Lidmate van gemeentes moes bitter vinnig leer hoe om aanlyn in te skakel by eredienste. Skielik moes kantoorwerkers leer om by die huis te arbei, so tussen hul kinders wat nie meer skool toe gegaan het nie. En onderwysers het gepoog om kinders elektronies en met saamgeflanste video’s te leer.
Self moes ek blitsvinnig kliënte probeer oorreed om aanlyn in te skakel by een van my webinare, of om “persoonlik” kontak te maak via Zoom. En elke keer as ek ’n professionele WhatsApp-boodskap aan ’n kliënt gestuur het, het ek gewonder of ek nie dalk hul privaatheid skend nie. Want huis het werk geword en werk het huis word.