Die gevierde sosioloog Robert Bellah publiseer in 1967 ’n opstel waarin hy die simbole en instellings wat alle Amerikaners verenig, beskryf as die Amerikaanse burgerlike godsdiens (“civil religion”).
Met verwysing na toesprake en geskrifte van die grootste Amerikaanse presidente bevind Bellah dat uit die verskillende godsdienstige en filosofiese tradisies wat deur Amerikaners aangehang is, ’n gedeelde verbintenis tot sekere simbole en instellings gegroei het. Dit sluit dinge in soos die Amerikaanse vlag, die volkslied, federalisme, die hooggeregshof, die kongres, die verkiesingstelsel – en ook die Kapitool in Washington DC.
Vir Bellah in 1967 sou dit ondenkbaar wees dat verlinkse Amerikaners vir die afskaffing van die polisie vra, of dat verregse Amerikaners die Kapitool bestorm. Wat is hier aan die gebeur?