Reeds in die vierde eeu voor Christus bevind Aristoteles in sy boek die Nikomachiese etiek dat die goeie gesondheid van die siel afhang van deugsame handeling.
In die boek bespreek Aristoteles ook “melancholie”, oftewel dit wat ons vandag depressie noem, en hy beveel aan dat om tot deugsame handeling oor te gaan die beste behandeling vir melancholie is.
Danksy moderne neurologiese en psigiatriese navorsing weet ons vandag dat om magteloos te voel, om te voel dat jy niks kan doen nie, dikwels ’n teken van depressie is. Ons weet ook dat ofskoon Aristoteles reg was oor die genesende werking van deugsame handeling, dit dikwels méér terapeutiese ingryping verg om ’n depressielyer weer sover te kry om deugsaam te kan handel.