Dié tyd ’n jaar gelede moes ons die soveelste ontwrigting van ons normale siklusse trotseer. Die jaarlikse somervakansie is gegrendel. Die strande was gesluit. Die wyn het opgeraak. Ons was minder as halwe gesigte agter ons gehawende maskers.
Ons het soveel gerus as wat ons kon te midde van die ontwrigte rustyd, gehoop ’n jaar wag waarin die skadu van die pes nie so donker oor ons val nie.
In die jaar wat was het die akuutheid van die pes afgeneem, ja. Al moes ons steeds langs oop grafte staan, of merendeels aanlyn probeer afskeid neem. Al het minder miskien doodgegaan, en al het meer siek geword, het ons tog op ’n manier aangegaan.