Een van die TV-sensasies van die jaar moet Die Real Housewives van Pretoria wees. Maar sien ons wat ons dink ons sien?
Geoordeel aan baie van die kommentaar wat oor die deelnemers aan die reeks gelewer word, het baie – miskien die meeste – kykers geen twyfel nie. Wat ons sien, is die werklikheid. En hulle vind elke moontlike rede om die deelnemers uit te haal. Dié een is te pretensieus. Daardie een te veroordelend. Dié een te kommin. Daardie een hoort nie op die reeks nie. Hierdie een het geheime wat nog aan die lig gaan kom. En so aan.
In ander kommentaar verklaar iemand dis ’n sekulêre reeks wat onaanvaarbare waardes bevorder, en ons almal behoort die reeks te boikot. Hokaai!