Gedurende die laaste drie dekades van die 20ste eeu het die siening posgevat dat die Weste met betrekking tot godsdiens die pad na die toekoms vir die res van die wêreld sou aandui.
Hiervolgens sou godsdiens behoort tot ’n vroeëre fase toe die mensdom nog kultureel onmondig en eintlik maar irrasioneel was. Vir die voorstanders van hierdie siening was die sogenaamde Europese godsdiensoorloë van die 16de eeu, waartydens Katolieke en Protestante slaags was, onweerlegbare getuienis van hoe skadelik godsdiens eintlik vir die mensdom is.
Met die val van kommunisme in Oos-Europa en die voormalige Sowjetunie rondom 1990 het bogenoemde siening verdere momentum gekry en is aangeneem dat dit ’n kwessie van tyd sou wees voordat die res van die wêreld die kapitalisme en die liberaal-demokrasie aangryp. In ’n nou berugte uitspraak het Francis Fukuyama na dié voorspelling verwys as die “einde van die geskiedenis”.