‘Die teerstraat hou abrup op en die straatvlak is nou net gruis, eeue laas geskraap met diep uitgetrapte spore en sandwalle op die skouers vol verdorde kakiebos en ou oliebome.
“Was dit veel anders toe hy as kind hier saam met sy ouers gery het? Hy herken van die geboue, onthou soms die naam van iemand wat jare terug gebly het op ’n erf waarop daar hoenders was en ’n bobbejaan aan ’n paal. Toe hy weg is stad toe, het hy nie meer saam met sy ouers gaan kuier nie. Dit is toe dat die mense vir hom vreemd begin word het. Nou is alles wat hy geken het, besig om te verval en te verword en tot niet te gaan.”
Aldus ’n beskrywing van die waarnemings van dr. Gustav van Aardt, die hoofkarakter in Francois Smith se briljante nuwe roman, Die kleinste ramp denkbaar.