’n Vraag wat al hoe meer vandag in Suid-Afrika opklink, is die vraag “of daar nog hoop is”. So asof dit waarop gehoop moet word, vanselfsprekend is.
Maar dit is nie, want ons leef vandag ongetwyfeld in die oorgang na ’n wêreld waarin soveel dinge wat ons as ’n gegewe beskou het, voor ons oë verdwyn.
Die kern van die oorgang is soos volg saamgevat deur een van die skerpsinnigste ontleders daarvan, die Franse denker Bruno Latour, wat die afgelope Maandag dood is: “As mense vandag gedisoriënteer is deur die ekologiese vraagstuk en nie daarin slaag om vinnig te reageer op ’n situasie wat almal weet katastrofies is nie, is dit grootliks weens die feit dat mense steeds in die vorige wêreld is. Dis ’n wêreld gemaak van voorwerpe geken deur die wetenskappe . . . ’n wêreld van oorvloed en gemak wat deur die produksiestelsel meegebring is. Maar dit is nie meer die wêreld waarin ons nou is nie – die wêreld waarin ons op ’n manier aarde toe moet kom, die wêreld waarin ons onsself geplaas vind, ’n wêreld van lewende wesens tussen ander lewende wesens.”