Die stigting van die Kaapse Forum in samewerking met AfriForum het ’n heftige debat ontketen wat weer ’n kernvraag aan die orde stel: Hoe kom ons by ’n Suid-Afrikaanse bedeling wat die waardigheid van alle Suid-Afrikaners herstel en ons op die pad van voorspoed en voortreflikheid plaas?
Die begrip Suid-Afrika is as’t ware in sonde ontvang en gebore met ’n koloniale maaksel wat die meerderheid Suid-Afrikaners uitgesluit het en vir alle praktiese doeleindes berus het op Afrikaners en wit Britse afstammelinge se gedeelde vrees vir swart meerderheidsoorheersing – die sogenaamde Unie van Suid-Afrika, wat amptelik op 31 Mei 1910 tot stand gekom het.
Enigiemand wat twyfel oor die feit dat “uniewording” aangedryf is deur ’n vrees vir wat later die “swart gevaar” genoem sou word, en met die voortgesette grootskaalse onteiening van generies swart Suid-Afrikaners (swart, bruin en Indiër, in die ou taal) gepaardgegaan het, hoef net Karel Schoeman se behandeling van die saak na te slaan in band twee van Imperiale somer: Rekonstruksie (wat verlede jaar verskyn het).