Hendrik Johannes van der Bijl en André Marinus de Ruyter: twee Suid-Afrikaners en ’n eeu se geskiedenis tussenin.
Van der Bijl was ’n briljante wetenskaplike wat onder meer in die VSA navorsing gedoen het oor telekommunikasie en elektrisiteit. Dit was genl. Jan Smuts wat hom in 1920 oorreed het om terug te keer na Suid-Afrika om sy kennis plaaslik toe te pas. Van der Bijl se nalatenskap is as dié van nyweraar. Hy was die stigter van die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalkorporasie (Yskor) en die African Metals Corporation (Amcor).
Maar seker sy grootste bydrae was as stigter van die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie in 1923. Die doel was destyds om goedkoop krag op te wek om nywerheidsontwikkeling te stimuleer. Dié doelwit word uitgestippel in ’n verslag van die destydse Electricity Supply Commission – adres: Electricity House, 82 Marshall Street, Johannesburg – van 9 Augustus 1924.