Die klagte wat teen adv. Albert Fritz, geskorste LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, ondersoek word, is allesbehalwe net ’n klagte oor, sê, die misbruik van ’n staatsvoertuig of dat hy ’n boks afrolpapier vir sy kleinkinders se skooltake huis toe gevat het.
Van wat mens sover lees, is dit uiters ernstige aanklagte. Die gemene deler is (weer) ’n man in ’n posisie van mag en die slagoffer ’n vrou.
Nou verneem ’n mens dat vier mense wat na aan die LUR is en glo sou saamspan in dade teen die vroue ook geskors is. Die aantygings teen die hoë op die vyfde vloer in die wetgewer en sy “trawante” klink amper ongelooflik en sit ’n beklemming op die bors.