Dit was, hoewel op die oog af komies, nie iets om oor te lag toe dié boodskap op die WhatsApp-groep beland het nie: “Van almal van ons hier in Groendakkies. ’n Geseënde Paasfees en ’n suksesvolle 1983.”
Voorverlede week het twee opspraakwekkende goed in die Kaapse metropool gebeur: Die eerste voorval was ’n vrou wat poedelkaal sowat 1,5 km, en sonder dat sy voorgekeer is, deur Gordonsbaai geloop en op die promenade by die strand geëindig het. Lede van die polisie, metropolisie en ’n veiligheidsmaatskappy het gespartel om haar te kon arresteer op klagte van openbare onsedelikheid. Voor dit het ’n onbekende man wel alles probeer om die vrou haarself te laat klee.
’n Ooggetuie vanuit een van die woonstelle het die situasie in ’n plasing op sosiale media soos volg beskryf: “. . . die vrou se metgesel/man/kêrel het agter haar aangehol in ’n poging om haar te stop en het haar byna platgetrek op ’n kol, maar sy pluk vir hom af van haar af soos ’n posseël van ’n koevert af!”