Duisende mense sal kan onthou hoedat hulle destyds in arm woonbuurte grootgeword het op maaltye wat bestaan het uit brood met natgemaakte suiker terwyl hulle babatyd lou en flou tee gekry het uit bottels met ’n tiet oor die bek getrek. Die kind is by ’n antie of familie se huis “gehou” totdat die ma die kind ná werk kom haal het.
Dié versorging is dan ’n “crèche” genoem, ’n plek waar die kind net heeldag sit, TV kyk, speel of slaap. Kommerwekkend is dat dié vorm van informele toesighouding steeds voortduur.
Nog meer kommerwekkend is die gebrekkige opvoedkundige stimulasie – juis in ’n kritieke stadium wanneer die kleuter taal en ander vaardighede moet aanleer.