Ek het destyds ’n “vreemde” vriend gehad wat altyd by ons bure kom kuier het en versot was op sketse van mensgesigte doen. Eintlik was hy meer eenkant en diep as vreemd, want waar sy klasmaats sportmotors en meisies met straight hare sou teken, was sy sketse dié van plooigesigte, gemsbok en pyl. Sy gesprekke was asof vanuit ’n ander wêreld, poel van wysheid en ervarings.
Soms kon hy gedagtes verwoord wat sy tydgenote nie toe maklik verstaan het nie.
Hy was toe net ’n “vreemde” klonkie uit die Kalahari met sy rooi sand en ná sy matriek het die meeste van ons gewonder wat hy verder met sy lewe wou aanvang.